Engel van die nag

Engel van die nag
waar lê bron van krag
om deur die diepste slote van my emosies af te wyk?
- te verstaan waaruit ek bestaan,
Net deur die vensters van my oë te kyk?

En in die duisternis waarin ek myself bevind,
sprei jy jou engelvlerke om my te verblind
teen die vrese van my diepste smart
wat my aanloklik om die bos lei en tart.

Jy't my geleer om na die sterre te kyk
in plaas daarvan om die leegte in my hart
met die kraters op die maan te vergelyk.
- en die stilte van die nag my soos 'n lied laat leer
om af te wyk van die eindelose herinneringe van seer.

Nou vra ek jou weer, engel van die nag,
waar lê jou bron van krag?
- om oor verlore siele te waak
en om hul drome te bewaar terwyl hulle slaap?

Engel van die nag
ek bewonder die aansteeklikheid van jou lag
- die rykdom van jou hart vol goud
en jou vermoë om hitte uit te straal
al is dit om jou koud.