Home | Lyrics home

die dolk van jou kyk

jy lê die blaam net voor my deur
kan ek jou vra, wat is jou verweer?
moet ek die las van ons skulde dra
gebukkend onder alles wat jou pla?

jou oë vernietig die man voor jou
deurboor die skans wat hy om hom bou
is jy so skoon, so edel, so rein
vrygestel deur jou eie pyn?

    ver lê  jou wêreld van my kreet
    jy draai jou rug om van my te vergeet
    maar jy weet op die dag as die skaal moet draai
    val die dolk van jou kyk in jou eie blaai

jy laai net op en jy maak dit swaar
die gewig van jou klagtes maak my klaar
sê my net gou, sê my nou
moet ek altyd harde bene kou?

lê die hoop te ver dat jy kan vergeef
vergeet en my 'n kans gee om te leef?
bly dit 'n droom wat met die dag verdwyn
'n skim wat net altyd in die nag verskyn?

    ver lê jou wêreld van my kreet
    jy draai jou rug om van my te vergeet
    maar jy weet op die dag as die skaal moet draai
    val die dolk van jou kyk in jou eie blaai

wat het geword van jou sagte hand
die liefde wat net altyd in jou oë sou brand?
leeg lê beloftes soos 'n dooie blaar
dis al wat ons oorhou vir mekaar

jou oë vernietig die man voor jou
deurboor die skans wat hy om hom bou
is jy so skoon, so edel, so rein
vrygestel deur jou eie pyn?

    ver lê jou wêreld van my kreet
    jy draai jou rug om van my te vergeet
    maar jy weet op die dag as die skaal moet draai
    val die dolk van jou kyk in jou eie blaai

1989

© Jacques Steyn