die storm kom
die wolke teen die horison breek swart die lugruim in swaar's die swart wat hangend kom dit dreig met bloed en dood die suide lê wit teen die lig die noorde donder voort die dood wat rammel teen die son die storm kom die konka smeul in koue nag verhit die donker krot die wind deurklief die honger oë deur spleet in sinkplaatmuur in Houghton, Waterkloof en meer slurp vrate rande op verstik in kreef en kaviaar versuip in ou meneer die eggo rammel van die dood die hordes grom in hul nood met stemme stom gesnoer deur wet ons mense is besmet die kerke sny die brood apart spoeg krummels op die grond die nagmaalbloed bevlek die land dit stol dit reën wat seën die skeiding skeur deur siel en been van Jesus en sy Gees die deure bly gesluit en dig gegrendel in sy gesig die eggo rammel van die dood die hordes grom in hul nood met stemme stom gesnoer deur wet ons kerke is besmet in Langa smeul die rookmis swart in kerslig deur die stank motorwrak bied skuiling aan die neusloop krulkop kind Soweto vlam in nuwe hoop die treine is betyds die rye wat op busse wag vang ritmies nuwe gees die eggo rammel van die dood Afrika is in nood die voete stamp tot poeierstof die haat sal nog ontplof die eggo rammel van die dood hordes grom in hul nood met stemme stom gesnoer deur wet ons volkie is besmet die storm kom 1978
© Jacques Steyn