drie eende
asems wat sy ken
geken het
en sal ken
laat letsels in haar siel
soos spykers
wat in haar inkap
die lywe in die rook
wriemel
'n bondel broek en goed
lê bont rond op die mat
drie eende teen die muur
wat gedagtes laat wegvlieg
drie eende teen die muur
na die somers
na waters waar rus is
en stille dae
asem stoot ritmies
deur haar hare
wat slierte hang
en rooi klou
oor bebloude oë
en bebloede lippe wat
onafhanklik afwaarts
onbetrokke wegneig
weg van die lippe
wat soekend oor
haar borste hardloop
hygende sigaretasem
vou brandewynwalms
oor haar ore
en klem haar kop in 'n greep
drie eende
drie eende
gee my die eende!
haar kreet galm orgasties
teen gepreste plafon
eksponensieel kaats dit
deur haar siel
terwyl die asem
wat haar telkens neem
die noot minagtend
langs die lee bottel
laat
drie eende
drie eende
gee my die eende!