Jacques Steyn Home | Sirkelkringe | Program | Resensies

As jy weg sou gaan

sou jy my verlaat
bly gedagtes oor
net bitter smaad
van 'n afkskeidskoor
'n dagboekblad
wat vergeel en krul
steeds my siel bekoor
want die tyd staan stil
al het daardie uur
al my skroeiend vuur
met 'n slag geblus
deur jou martellis

sou jy weg moes gaan
en daai uur breek aan
jy my siel verslaan
as jy weg sou gaan...

ek sal aan jou gee
'n pêrel van reën
wat kom van 'n land
met sysagte sand
ek sal oral reis
die wêreld deurkruis
deur skroei en deur ys
my liefde bewys
ek sal jou dan gee
'n troon van smarag
waar jy sal heers
in al jou prag

maar as jy sou gaan...
en daai uur breek aan
jy my siel verslaan
jy weg sou gaan...

ek sal jou woorde maak
wat rym en klink
en my siel laat praat
en jou oor volskink
met klank en daad
en net liefde praat
jou oortuig van heel
my liefdesmaat
ek sal jou vertel
van die eensaam hel
sou jy oordeel vel
in ons liefdespel

en jy weg sou gaan
jy my siel verslaan
daai uur breek aan
as jy weg sou gaan

maar kom gou weer terug
en hoor nou my sug
ontvlam weer ons vuur
en breek af die muur
en mens sou kon dink
ons is 'n vulkaan
gedoof en gedaan
wat nooit weer kon blink
ons sal weer ontspring
as 'n spruit wat dring
deur 'n kors gewring
ons sal weer sing

maar as jy sou gaan...
en daai uur breek aan
jy my siel verslaan
as jy weg sou gaan

ek sal jou mis
as jy voort sou gaan
en ons lag verkwis
ek alleen sou staan
en jou lyf beloer
in my geestesoog
maar my hand gesnoer
en jy ver en hoog
van vingerraak
en my siel bly naak
en my hart bly koud
en my bors benoud

dat jy weg sal gaan
jy my siel verslaan
daai uur breek aan
dat jy weg sal gaan...