Jacques Steyn  

verby

1988

toe ek jou sien nader stap
  die eerste keer
jou hare donker
  gekrul
wat wegskiet van jou fyn gesig
en jou bene bruin
teen die wit van jou kortbroek
en jou tande kaats die neons
  van die winkels
tussen die mengelmoes
 in die arkade
het my hart sy ritme verander
en my asem my keel gedroog

toe jy verbyloop met jou wolwit hond 
en jou hare wip met jou stap
en die wind van jou stem waai
sag en hees verby my oor
"Hi!"
raak my voetslag se ritme vas
en sleep my skoen op die teëls

toe ek jou sien verbyry
 die tweede keer
jou hare donker
deur die windskerm
jou tandepasta lag
jou stem waai sag en hees verby my oor
"Hi!"
en ek sweef oor die straat
jou beeld ingebrand in my brein
en jy spook saans wanneer dit stil word

wat is jou naam?
wanneer die dag stil word bly jou beeld 
gegrafeer teen die mure van my brein

© Jacques Steyn