Jacques Steyn  

kortknip

sy sou een winter kon opstaan
haar kraag teen die wind opslaan
die nat van haar neus afvee
haar lewe met ´n lus betree

sy sou een somer in die son kon brand
gebaai op die goudgeel strand
sy sou haar liefde kon wen
sy sou haar lewe kon ken

sy sou kon lag
sy sou kon smag
na die lewe wat daar op haar sou wag

sy sou kon lag
sy sou kon smag
na die lewe soos ek en jy op lewe wag

sy sou die lewe kon voel in haar are
waardeur haar bloed sou woel
sy sou kon lag en speel
die lewe sou haar nooit verveel

sy sou die lig van die son en verder kon sien
haar naaste met haar lewe dien
sy sou ´n mond kon soen
maar voor sy kon leef is sy verdoem

in die donker van 'n buik
voor mens die vars
van die lug kan ruik

lê haar lewe wat klop en wag
deur die deur wat sou haar laat lag

deur die tonnel
lê haar toekoms rooi
in die bloed van haar grafkleed getooi

die blink van ´n lem
haar lewe´s getem
voor sy ´n woord kon sê

haar reg is haar ontneem
van haar lewe vervreem
bloederig vermoor
haar hoop is versmoor

kortgeknip
haar lewe is kortgeknip

kortgeknip

© Jacques Steyn