Jacques Steyn  

droom

1991

'n meisie lê daar buite
met haar borste in die somer
en sy lê en vryf haar kuite
en sy wag nog op 'n dromer
en sy sê daar is nog mense
wat verder droom as grense
met hoop wat vlam met vuur
en altyd voort sal duur


en sy sê
gee my die dromer
want ons almal wag op somer
ons is klaar met die winter
wat ons siele so versplinter


maar haar lied word verkrag
en moet sy sing van nag
en die donker maak ons bang
want sy kloue wil ons vang


verderaan lê kluite
in die swart aarde buite
en die dood wys sy tande
ons sien sy witbeenhande


leeg lê die blare
in die herfs van ons jare
ons wag op somer


maar waar bly ons dromer?
waar bly die drome?
waar is die drome?
drome bly net drome
en die vromes word al vromer
as die somer altyd somer bly
as elkeen net sy sin kon kry
maar sien net die sterre wink
droom jou beker's volgeskink
en hoop is al wat voort sal duur
en al wat ons ook voort sal vuur



gryp net die drome
al lê die dood in die somer
bly jy in die winter
sal die lewe jou versplinter


en jou lied word dan ook wreed verkrag
en jy moet sing van al jou nag
die dromer maak ons bang
want haar skimme wil ons vang


wat lê als daar buite?
is dit dan net kluite?
wat is in jou hande?
die dood se grynslagtande?


blink lê die blare
in die herfs van ons jare
wag jy ook vir somer?


wag jy ook vir drome?


wag op die drome...

© Jacques Steyn