die storm kom
1978
E
die wolke teen die horison
breek swart die lugruim in
swaar's die swart wat hangend kom
dit dreig met bloed en dood
die suide lê wit teen die lig
die noorde donder voort
die dood wat rammel teen die son
die storm kom
die konka smeul in koue nag
verhit die donker krot
die wind deurklief die honger oë
deur spleet in sinkplaatmuur
in Houghton, Waterkloof en meer
slurp vrate rande op
verstik in kreef en kaviaar
versuip in ou meneer
die eggo rammel van die dood
die hordes grom in hul nood
met stemme stom gesnoer deur wet
ons mense is besmet
die kerke sny die brood apart
spoeg krummels op die grond
die nagmaalbloed bevlek die land
dit stol dit reën wat seën
die skeiding skeur deur siel en been
van Jesus en sy Gees
die deure bly gesluit en dig
gegrendel in sy gesig
die eggo rammel van die dood
die hordes grom in hul nood
met stemme stom gesnoer deur wet
ons kerke is besmet
in Langa smeul die rookmis swart
in kerslig deur die stank
motorwrak bied skuiling aan
die neusloop krulkop kind
Soweto vlam in nuwe hoop
die treine is betyds
die rye wat op busse wag
vang ritmies nuwe gees
die eggo rammel van die dood
Afrika is in nood
die voete stamp tot poeierstof
die haat sal nog ontplof
die eggo rammel van die dood
hordes grom in hul nood
met stemme stom gesnoer deur wet
ons volkie is besmet
die storm kom
© Jacques Steyn