Hier is a transkripsie van die artikel. 'n Scan van die oorspronklike artikel volg onderaan

Afrikaanse rock en reggae in Pretoria

Kalender, Beeld 1990-06-27

PRETORIA neem weer die voortou met ligte musiek in die nuwe Suid-Afrika deur Afrikaanse musiek op dieselfde verhoog te plaas as die gewildste soort musiek onder die swart bevolking, naamlik reggae. En tot selfs in die swart pers is daar groot opgewondenheid oor die projek.

Die kombinasie was voor die koms van die nuwe Suid-Afrika bra ondenkbaar, maar nadat die reggae-kunstenaar Carlos Djedje en die nuwe Afrikaanse rockgroep 2B2 verlede week vir die eerste keer in Pretoria saamgespeel het, was die reaksie so goed dat daar besluit is dat hulle voortaan gereeld saam sal optree.

Djedje en 2B2 kan van vannaand af elke Woensdag in een van die gewildste rockrestaurante in die Jakarandastad, Maxim's, gehoor word.

Djedje se jongste langspeelplaat, Remember Them, is verlede jaar uitgereik en besonder positief deur musiekresensente ontvang. Hy werk tans aan 'n nuwe langspeler, No Apartheid.

"Met die nuwe gees wat nou in Suid-Afrika is, hoop ek dit is die laaste plaat wat ek oor hierdie onderwerp hoef te maak," sê Djedje. "In die toekoms wil ek meer sing oor samewerking en die bou van brue."

Djedje en sy groep, Malidadi, gaan binnekort in Japan optree.

2B2 is 'n vuurwarm, nuwe Afrikaanse rockgroep wat al hoe meer aandag trek in Pretoria. Die groep speel hoofsaaklik oorspronklike Afrikaanse liedjies, geskryf deur die groep se sanger, Jacques Steyn.

Die ander lede van 2B2 is Brian Schwarz, Kai-Uwe Brugge en Deon Karstel. Brugge was lid van die Namibiese rockgroep Ace wat getoer bet saam met Hotline, Zia en Zayn Adams. Karstel het voorheen onder meer vir Steve Hofmeyr se groep Dusk gespeel en Schwarz bet reeds saam met groepe Soos die Backwater Blues Band, Buttercup en Backstreet Alley gewerk.

Op 'n vraag wat die naam 2B2 beteken, het Steyn gesê dit beteken niks nie. "Tradisionele Afrikaanse name is baie soetsappig, terwyl die name van die groepe van die soge- naamde alternatiewe beweging sosiale kritiek lewer, tong in die kies is of kras is. Vir 2B2 is die musiek die belangrikste - ons het nie 'n kruistog om te voer nie."

Die groep sal binnekort op die Houtstok-dubbellangspeler gehoor kan word.

 

Foto-onderskrif: Carlos Djedje, Moses Baloy (Djedje se bestuurder), Jacques Steyn van 2B2 en Sello Motshekga van Malidadi.