O, waar's ons goeie Afrikaanse musiek?
Franz Kemp, Huisgenoot (pp 11, 22)
Datum onbekend -- artikel gekry van uitknipsel -- enige een daar iewers wat weet wat die datum is?
Radio-verbod: kenners roskam sangers soos Cora-Marie en Worsie Visser
Edwill van Aarde het sekere kunstenaars se musiek oor Radio Suid-Afrika verbied -- en daarmee 'n byenes oopgekrap. Die 'gelystes' is briesend, maar van die musiekkenners meen dis 'n goeie ding. Want op sekere uitsonderings na, sê hulle, is ligte Afrikaanse musiek vrotsig...
Dis soos die hemel se sluise wat oopgegaan het nadat Edwill van Aarde die moed aan die dag gelê het om sekere Afrikaanse kunstenaars se musiek oor Radio Suid-Afrika te verbied.
Die mense wie se name hy in 'n omsendbrief noem, is briesend en sê hy moet verduidelik, maar van die kenners kry Edwill en sy span 'n klop op die skouer: Mooi gedaan, hou so aan.
En hulle skroom nie om die ding op sy naam te noem ni: Ligte Afrikaanse musiek is vrotsig!
Louis van Rensburg, komponis, sanger, verwerker en navorser van Afrikaanse ligte musiek, sê reguit aan sekere van ons Afrikaanse sangers: "Klim af van die verhoog en gaan sit eerder in die gehoor."
Daniel Kirstein, een van ons bekendste Afrikaanse omroepers en iemand wat al talle Afrikaanse musiekprogramme opgestel het, is uitgesproke: "Met die uitsondering van Laurika Rauch en drie, vier ander wat uitblink, is dit net 'n lugleegte - en dan volg totale gemors."
Nico Carstens, wat meer as 'n duisend komposisies en verskeie internasionale treffers agter sy naam het, sonder 'n paar briljante Afrikaanse kunstenaars uit en sê die res produseer twak.
Louis, 'n man met musiekervaring soos min, het drie jaar gelede met die voltreffer Voshaarnooi en die res van die klankbaan vir die TV-reeks Ballade vir 'n Enkeling omtrent die hele land aan die neurie gehad.
Hy sê as hy vandag nog by die SAUK was, sou hy nie kunstenaars se musiek heeltemal verbied het nie, maar wel individuele nommers, soos Manuel Escorcio se Monique - "iets wat nie uitgesaai behoort te word nie" - of Cora Marie se Gee Haar 'n Roos.
Mense wat nie werklik kan sing nie, maak plate, sê Louis. En mense sonder enige skryftalent ontpop as liedjieskrywers. Soms klink dit of hulle nog nie eens Afrikaans bemeester het nie.
Hulle verniel Afrikaans met melodrama en soetsappigheid, betekenislose teks, verkeerde klemme en lettergrepe.
Louis sê daar is pragtige ligte Afrikaanse musiek van 'n baie goeie gehalte, maar daar is ook uiters swak Afrikaanse musiek.
"Heel eerste moet jy 'n goeie melodie kan skryf - dit moet lekker op die oor val, moet spanning handhaaf, emosie wek."
Hiervan het ons baie voorbeelde, veral onder die volksmusiek in die FAK. Vaarwel My Eie Soetelief en Gé Korsten se Liefling "doen die regte dinge".
As die woorde in 'n lied begin neul en emosionele waardes aftakel, is die emosionele inhoud twyfelagtig, sê louis. Klassieke voorbeelde is Een Aand op die Trein na Pretoria, of die liedjie oor die Coalbrook-mynramp van die Briels.
Oor die sogenaamde alternatiewe Afrikaanse musiek sê Louis: "As dit konstruktief kommentaar lewer is dit goed. As dit goed uitgevoer word volgens die styl waarin dit aangebied word, dan koop ek dit."
Hy sonder Jacques Steyn as 'n goeie kunstenaar uit, maar "Johannes Kerkorrel se sang is effens kleurloos volgens my waardes. Ek sou wou sien dat hy meer stem gebruik.
"'n Goeie voorbeeld hiervan is Lucas Maree, wat al die elemente in korrekte verhoudings gebruik, melodieus wanneer nodig, dramaties wanneer dit moet."
Suid-Afrika het soveel belowende Afrikaanse talent dat ons nie na die swakkes hoef te luister nie. Louis sonder die volgende kunstenaars uit as van ons bestes:
- Laurika Rauch - haar Mannetjies Roux is 'n juweel
- Alida White is skitterend en Mynie Grové fenomenaal
- Eugene Havenga kan met die regte leiding een van ons bestes wees
- Coenie de Villiers skryf op sy beste soms beter as Koos du Plessis
- Danie Niehaus kom nou tot sy reg
- Die jong Philip Moolman is belowend
- Ander goeie jonges is De Wet Wraight, Ivan Schoombee, Louise du Toit Smit, Marie du Toit en Gretha Jones.
Daniel Kirstein vertel dat hy self in sy 31 jaar by die SAUK geweier het om sekere Afrikaanse kunstenaars se liedjies te speel.
Nico Carstens sê dit slaan hom jare al dronk waarom sommige Afrikaanse kunstenaars byna al hul liedjies uit Duits vertaal terwyl ons briljante kunstenaar-skrywers soos Christa Steyn, Mynie Grové en Coenie de Villiers het.
Hy het Worsie Visser ontmoet, maar "die man maak dan nie musiek nie. Hy en ander sing vir hul vriende en dan dink hulle hulle kan plate maak."
Volgens Nico het ons net een ster van internasionale formaat wat Barbara Streisand soos 'n amateur laat lyk - Malie Kelly.